Van Emmenis ArtsOorspronklike Olieverf Skilderye
Die VAN EMMENIS-familie skilder oorspronklike olieverfskilderye op seil, leer, leiklip, bord en houtskywe.
Paula van Emmenis |
|
|
|
Paula van Emmenis toon vroeg reeds 'n lewendige belangstelling in haar kunstenaars-vader se werk. Nie net is sy geïnteresseerd in die skryfkuns en musiek nie, maar veral ook in die teken- en skilderkuns. Haar talente trek vroeg reeds die aandag van haar vader en die plaaslike kunsonderwyser, Willem Neser, wat dan saam begin om haar aan te moedig en te onderrig in die skilderkuns. Reeds as skooldogter voltooi sy talle skilderye in verkeie mediums, maar toon toe reeds 'n besondere voorliefde vir olieverf. Alhoewel sy matriek in die eerste klas slaag en graag verder in die skone kunste wou studeer, veroorsaak 'n gebrek aan die nodige finansies dat sy nie haar droom kan verwesenlik nie. Maar ten spyte van die feit dat sy nooit enige formele tersiêre kunsonderrig ontvang het nie, begin sy op agtienjarige leeftyd onder die toesig van haar vader om 'n lewe uit die skilderkuns te maak. Alhoewel haar stillewes, veral studies van proteas, strelitzias en ander bekende inheemse blomsoorte, aanvanklik baie in aanvraag is, veroorsaak haar besondere liefde vir die Waterberge, waar sy grootgeword het, dat sy mettertyd meer op natuurstudies en dierestudies konsentreer, veral landskappe waarin haar geliefde Waterberge prominent figureer. Oor die laaste dertig jaar is haar skilderye plaaslik sowel as in die buiteland so gesog dat sy waarlik beskou kan word as een van Suid-Afrika se bekendste en veelsydigste kunstenaars. |